Dis duidelik dat God nie met hom laat sukkel nie. Terwyl hy met Moses praat, is daar donderslae en blitse. Daar is die geluid van basuin. Dit rook soos die berg aan die brand slaan. Die mense raak so bang dat hulle bewe en op ’n afstand bly staan. [...][1]
Theunie [die jongste seun] neem hulle nie kwalik nie. Hy sou self maar taamlik versigtig gewees het. Hy wonder hoe die geluid van basuin klink. Dalk so uitgerekte geblêr, amper soos toe Bella Bok die Kerol ingekry het, net baie harder.[1]
Om so saam in die maanlig oor kalm water te vaar, is ’n innige vreugde. Naderhand besef hulle met skrik hoe die stroom hulle meevoer. Dit vloei ál vinniger. Omdraai is nie meer moontlik nie. Dit raak ’n versnelling tussen gevaarlike rotse deur. Die vloed sleur hulle na daardie fyn draai in die rivier waar roeiers gewillig oor die afgrond stort en hulle ekstaties aan die maalkolk oorgee.'[1]
Julle sal gewoond raak aan Koukonap. Dis mos een van daardie plekke waarvan hulle sê dat dit jou twee keer laat huil. Die eerste keer as jy daar aankom. Die tweede keer as jy daar moet weggaan.[1]