Afrikaans

'n Wes-Germaanse taal

Afrikaans is 'n taal soortgelyk aan Nederlands wat veral in Suider-Afrika gepraat word. In die 17de eeu reeds merk buitestanders op dat 'n patois van die moedertaal ontstaan het. Segswyses van 18de eeuse Kaaps-Hollands sou "belaglik" wees, en skaamte die vanselfsprekende gevolg. In die 19de eeu wend Changuion 'n ongewilde poging aan om die taal weer in die Nederlandse hoofstroom te plaas. Die Engelse pers reageer met verontwaardiging op Kaaps-Hollands – soos latere taalstryder Langenhoven, sien hulle dit as 'n omgangstaal sonder opmerklike vooruitsigte, een wat kwalik op deelname aan die formele diskoers kan aanspraak maak. In die 1880's verbind S.J. du Toit die taal met nasionalistiese doelwitte, 'n stroming wat die Engelse pers reeds in 1857 uitlig. Vroeg in die 20ste eeu is daar sprake van "suiwer Afrikaans", en 'n trots en lojaliteit het posgevat. Nasionaliste verklaar die taal as hul eie skepping, en lê die standaardvariëteit op aan alle leerlinge in "wit" Suid-Afrika. Die Soweto-opstand is wellig die breekpunt tussen Afrikaans en Apartheid, maar hierdie konnotasie bly dekades later aktueel. Voor die eeuwending antisipeer Nelson Mandela 'n Afrikaanse taal wat sy sosiale deelname sonder spesiale bevoorregting sal vervul. In die eerste dekades van die 21ste eeu is die grondwet magteloos om die afskaling van Afrikaans hok te slaan. Private inisiatiewe behaal wel enkele suksesse in die formele insluiting van Afrikaans in hoër onderwys.

Inlegsel op die toegangspaadjie na die Afrikaanse Taalmonument:
Dit is ons erns
– 'n parafrase van Onze Jan se vraag van 1905: Is 't ons ernst?

Aanhalings

wysig

17de eeu

wysig
  • 'n Gewoonte bestaan onder ons ganse nasie, waar die binnelanders die Nederlandse taal aanleer, dat hulle dit op 'n baie krom en onverstaanbare manier uitspreek, wat meebring dat ons hulle daarin napraat, sodat ons Nederlandse kinders ook hierdie gebruik aanvaar, en die grondslag gelê word vir 'n gebroke taal wat met verloop van tyd onuitwisbaar sal wees. Nog minder sal dit ons geluk om die Nederlandse taal onder die Hottentotbevolking in te voer, wat trouens geen gebrek aan vermoë toon om die woorde korrek, d.i. foutloos, uit te spreek nie, indien jy die moeite sou doen om sorgvuldig aan hulle voor te sê nie, iets waaraan ons tog meer aandag behoort te skenk.

18de eeu

wysig
  • Die taal van die landelikes is so weinig suiwer Nederlands as wat die taal van Duitse boere suiwer Duits is. Die mans het 'n baie oordrewe spraak en die vrouevolk het segswyses aangeneem wat by geleentheid werklik belaglik is. Om 'n voorbeeld te noem, as jy hulle sou vra of hulle geen Bybel het nie, is die antwoord: "Onz heeft geen Bijbel ..." As jy hulle dan sou vra: "Hoeveel onze gaan daar in 'n pond?", word hulle rooi van skaamte.
    • Otto Friedrich Mentzel in Vollständige geographische und topographische Beschreibung des ... afrikanischen Vorgebirges der Guten Hoffnung (1785–1787), aangehaal in Afrikaans en sy Europese Verlede, E. H. Raidt, pp. 149–150, 1980, ISBN 0625014421.

19de eeu

wysig
  • Hy het sy moedertaal byna volkome verleer en die verminkte Hollands van die koloniste gepraat.
    • Martin Lichtenstein in Reisen im südlichen Afrika II (1803–1806), p. 151, met verwysing na die Duitse botanis J. A. Auge wat hom in die Kaap gevestig en die voertaal aanvaar het.
  • [Ek is bekend met] daardie tipe van baster-Nederlands wat in hierdie land deur die boere en slawe gepraat is, asook onder die Hottentotte en verskillende ander heidenrasse, en wat ook nie volkome ontbreek in die spraak van selfs die mees gekultiveerde van die Christene en die hoëre klasse van die mense nie.
  • Die hoofdoel van die volgende versameling, soos mens uit die staanspoor uit die titel van ons werk kan aflei, was om die Nederduits, versover die taal wat in hierdie kolonie gebesig word sodanig aangedui kan word, van volkome vreemde en verminkte woorde en segswyses te suiwer, of minstens die weg daartoe aan te dui. ... Aangesien dit nuttig is om te let hoe die Nederduits van een geweste in Nederland van 'n ander verskil, en hoe by vergelyking, een aanwending van die taal 'n ander belig en verklaar, is dit insgelyk nie te versmaai om die eienaardighede van Kaaps-Nederduits in samehang te beskou nie.
    • Antoine N. E. Changuion in Proeve van Kaapsch Taaleigen, ingesluit as bylaag tot die tweede uitgawe (1848) van sy Nederduitsche taal in Zuid-Afrika hersteld, Rotterdam: J. van der Vliet (1844). Kyk ook Van der Merwe, 1972
  • Jij kan ver mij gloo dat die plat Hollans meer gelees wor onder ons boere as die wat Sankion ver ons wil leer in zijn boekies.
    • 'n Inwoner van Montagu in repliek op Changuion, soos aangehaal deur Scholtz, J. du P. (1965). Die Afrikaner en sy taal 1806-1875: p. 180. Kaapstad: Nasou.
  • Die taal van die Kaap! ... Asof die ellendige brabbeltaal wat die voertaal van hierdie land is, enigsins die naam van taal waardig is. ... Die gebrekkige uitdrukkingskrag in hierdie broutaal is sodanig, dat ons enige persoon uitdaag om daarin uitdrukking te gee aan gedagtes wat enigermate bo die louter ordinêre uitstyg ... Daar kan geen literatuur bestaan in so 'n taal nie, want arm soos dit is, is dit kwalik 'n geskrewe taal ... Laat vaar dan julle taal en julle nasionaliteit, en glo ons, julle hoef nie te vrees vir julle geloof nie.
    • Redaksiestuk in The Cape Argus, 19 September 1857, 'n beroep vir uitwissing van die "gruwelike voertaal van die Kaap", die nasionaliteit waaraan dit verbonde sou wees, en die vervanging daarvan met Engels, aangehaal in Afrikaans en sy Europese Verlede, E. H. Raidt, p. 212, 1980, ISBN 0625014421
  • Julle praat nie Nederlands, dit wil sê die suiwer ou Hollandse spreektaal nie, en nog minder sou julle jul lippe bevuil met die patois van die Hottentotte om ons. Ek is seker dat ek geen aanstoot gee as ek sê dat julle julle gedagtes uitdruk op 'n wyse wat nié op julle kansels erken word nie, nié in julle wetboeke gelees word nie, nié in julle wetenskapfolios figureer nie, en nog minder erken word as 'n taal van 'n verligte nasie, want dit verskaf nie 'n behoorlike woordeskat vir die laagste straatvolk, of vir die hoogste hoëlui nie ... Dit is een wat besig is om julle en julle kinders onberekenbare skade te berokken. Dit strem julle gedagtes. Dit knel julle energie. Dit laat elke beleefde vrou bloos, en al te dikwels laat dit opgevoedes in afsku terugdeins. Dit korrupteer die sedes van julle kinders, en besoedel hulle onskuldige uitdrukkings ...
    • The Cape Monitor, 14 Oktober 1857, aangehaal in Afrikaans en sy Europese Verlede, E. H. Raidt, p. 212, 1980, ISBN 0625014421
  • Mense sal jou vertel dat Afrikaans nie 'n taal is nie, omdat dit saamgestel is uit Nederlands, Frans, Hottentots ensomeer. Die wyse waarop die Engelse taal saamgeflans is, word egter wyslik verdoesel.
  • Ware Afrikaners, ons doen 'n beroep op julle om saam met ons te beken dat die Afrikaanse taal die moedertaal is wat ons Troue Heer ons gegee het; en om deur dik en dun vas te staan vir ons taal; en om nie te rus voordat ons taal algemeen erken word as die nasionale taal van ons land nie.
  • 'n Aantal grapmakers naby Kaapstad probeer om die 'plat Hollands' van die straat en kombuis as 'n geskrewe taal neer te pen en te verewig. Hierdie grap word in alle erns bedryf. Hulle het 'n koerant, het 'n geskiedenis van die Kolonie saamgestel, 'n almanak, en om die grap te kroon – 'n grammatika. Dis onmoontlik om hierdie publikasies te lees sonder om te lag, want jy kan nie help om by die lees daarvan te voel dat die skrywers ook lag wanneer hulle skryf nie. Die spelling, die woorde, die segswyses en grammatika – dit kan alles net so goed foneties uit die mond van enige ou Hottentot geneem word, en voeg daarby dat die skrywers 'n duidelike poging aanwend om te sê wat hulle wil sê met al die droë, slinkse humor van daardie heer, veral wanneer hy 'n bietje gedrenk is. Al word daar gelag en gespot oor die promotors van die Patriot, hou hulle by hulle grap.
    • Die Engelse pers van Kaapstad hekel die GRA, 1876, aangehaal in The Genesis of Afrikaans, deur Achmat Davids, in Afrikaans Literature: Recollection, Redefinition, Restitution, p. 49, 1996, Robert & Ethel Kriger
 
Arm aan woordeskat, gebrekkig wat die verbuiginge betref, en ontoerykend vir nougesette semantiek ... – Lord J. H. de Villiers
  • Synde dit arm is aan woordeskat, gebrekkig is wat die verbuiginge betref, ontoerykend is vir eksakte semantiek, en onmagtig is om konsepte van die hoëre denksfere te verwoord, sal dit 'n grondige vernuwing te beurt moet val voordat dit 'n literatuur kan lewer wat die naam daarvan waardig is.
    • Lord J. H. de Villiers in 1876, aangehaal in The Earliest Stage of Language Planning: "The First Congress" Phenomenon, Joshua A. Fishman (red.), p. 12
  • [Hulle] wat ... geen uitweg sien om die taal van Holland te onderhou, of eerder, te herstel onder die menigte ou Koloniste nie, sou Engels probeer uithou deur die voer- en broutaal van die laagste Hottentotte die taal van hierdie mense, ja selfs Suid-Afrika te maak.
    • The Cape Argus, 19 September 1877, lewer kommentaar op die GRA en hulle aanhangers, aangehaal in The Genesis of Afrikaans, deur Achmat Davids, in Afrikaans Literature: Recollection, Redefinition, Restitution, p. 56, 1996, Robert & Ethel Kriger
  • Die beskerming van ons Landstaal moet hoofsaak wees van so 'n Bond, want taal en nasie es een, en di wat dit ni tot doelwit stel ni, moet liewers ni lid worde van ons bond ni
    • S.J. du Toit van die GRA omtrent die Afrikaner Bond party, c. 1881, wat C.J. Rhodes in sy geledere sou insluit, aangehaal in The Genesis of Afrikaans, deur Achmat Davids, in Afrikaans Literature: Recollection, Redefinition, Restitution, pp. 55–56, 1996, Robert & Ethel Kriger
  • [Alhoewel] foneties Teutonies, is dit bewustelik 'n Hottentot-idioom in hooftrekke. ... Daar kan kwalik verwag word dat die afstammelinge van die Maleis-Polinesiese slawe en Hottentot-bediendes, wat oorspronklik agglutinatiewe tale gepraat het, enige opbouende invloed op 'n inflektiewe taal sal hê.
  • Vir intellektuele opvoeding is Afrikaner-Nederlands geen aanwins nie, want dit beskik oor geen literatuur nie, en het 'n baie beperkte woordeskat. Vir interne diskoers en as 'n handelsmedium is Engels die meerdere daarvan, en in buitelandse handel is dit sonder aansien.

20ste eeu

wysig
  • Afrikaansch ... mooi; zoo eenvoudig, ernstig, en oprecht gemeend.
    • Hjalmar Reitz in 1903, soos aangehaal in Boer en Brit: Afrikaanse en Nederlandse tekste uit en om die Anglo-Boereoorlog, p. 285, deur Ena Jansen & Wilfred Jonckheere, 1999.
  • ... om in die eerste plaas te wys dat ons Afrikaans nie beskou as 'n kombuistaal nie: daarom het ons dit die slag in die voorkamer geset.
  • Die beste voorbeelde van Kaaps-Hollands is moontlik onder die Maleise bevolking in die Kaapse Skiereiland te vinde, wie se aanbidding in 'n vreemde taal geskied, en die Basters wat by Duitse sendingstasies gebore en getoë is, waar Kaaps-Hollands die enigste voertaal is. Onder albei hierdie klasse sal jy 'n spraakbedrewenheid aantref wat niks aan vreemde elemente verskuldig is nie en hul tot 'n gemaklike uiting van alle sentimente en gevoelens leen, maar tog tot die eng grense van 'n patois beperk is.
  • Die generaal gebruik nie suiwer Afrikaans in sijn toesprake nie en ook nie 'n Hollands wat met die taal van 'n Hollander maklik kan verwar word nie, maar 'n soort Afrikaans met hollandse verbuiginge wat hij sonder 'n bepaalde plan holderste bolder inlas sodat daar nou en dan bij toeval een op die regte plek kom.
    • C. J. Langenhoven oor die taalgebruik van generaal Louis Botha, aangehaal in Kannemeyer, J. C., 1995. "Langenhoven. 'n Lewe.", Tafelberg, p. 302
  • Hoe lank sal ons hink op twee gedagtes? As Nederlands ons taal is, waarom praat ons hom nie? As Afrikaans ons taal is, waarom skryf ons hom nie?
  • Van Langenhoven. Provinsiale Raad het my mosie aangeneem wat Afrikaans toelaat als permissiewe medium tot en met die 4e standaard.
    • C.J. Langenhoven in 'n telegram aan sy eggenoot op 23 April 1914, wat ook in Het Zuid-Westen, sy koerant in Oudtshoorn gepubliseer is, aangehaal in J. C. Kannemeyer, 1995, pp. 296–7. Hiermee het Afrikaans amptelike status in die Kaap ontvang as onderrigmedium in die eerste ses skooljare, om effektief Nederlands in hierdie opsig te vervang. Die Christengemeenskap in Genadendal en die Moslemgemeenskap van die Dorpstraat-madrasa, Kaapstad, het egter reeds baie jare tevore Afrikaans as 'n onderrigmedium benut.
  • As Afrikaans en Afrikanerdom ten gronde gaan, sal dit 'n onherroeplike ramp vir Suid-Afrika meebring. En dit mag onder geen omstandighede gebeur nie, want wie het Afrikaans en Afrikanerdom tot nou toe gepreserveer? Nie hierdie mense wat simposiums hou en groot praat nie. Die Nasionale Party het Afrikaans en Afrikanerdom tot stand gebring. ... Afrikaans word gepraat in kringe waarin dit nog nooit tevore gepraat is nie. Vandag is daar respek vir Afrikaans by mense wat nog nooit voorheen respek daarvoor gehad het nie. Ons moenie kla dat Afrikaans [weens inskiklike taalbeleid] geruïneer word nie. Ons moet trots wees en ons verbly dat Afrikaans met snelle skrede vorder in Suid-Afrika!
  • ... 'n brug tussen die groot helder Weste en die magiese Afrika ... Ons taak lê in die gebruik wat ons maak en sal maak van hierdie glansende werktuig ...
 
Afrikaans is 'n kanker wat vernietig moet word. – M.W. Makgoba
  • Was dit nie dat Afrikaanse literatuur wit oorheersing verheerlik nie, en was dit nie vir die onuitspreeklike boosheid wat hierdie literatuur uitadem nie, kon mens dit eenvoudig afwys as sinneloos, 'n dodende verveling.
    • Es'kia Mphahlele, 1974, The Function of Literature at the Present Time: The Ethnic Imperative.
– Literatuur in die etos van Boplaas (Boerneef, 1938) sou hier bedoel word, wat die gekleurde karakters daarvan sou uitbeeld as "gedienstige lyfeienes" in 'n "feodale orde", terwyl vorige kritici niks meer as 'n "natuurlike hiërargie" of "idille" onderskei het nie.
cf. Jakes Gerwel, 1983, Literatuur en Apartheid. Gerwel wys soortgelyke sentimente uit in Mphahlele, 1962, The African Image, p. 107.
cf. Godfrey Meintjes, 1995, Re-viewing the Past: Notes on the Rereading of Canonized Literary Texts, Rhodes Universiteit
cf. Ampie Coetzee, Afrikaans Literature in the Service of Ethnic Politics?, in Afrikaans Literature: Recollection, Redefinition, Restitution, p. 103, 1996, Robert & Ethel Kriger
  • Sal Afrikaans die Afrikanerryk oorleef?
    • Jakes Gerwel in 1975, aangehaal in Sêgoed met slaankrag: 3 000+ van die slimste, snaaksste en soms onnoselste Suid-Afrikaanse aanhalings, George Claassen, ISBN 0624063194
  • Die onlangse stakings deur skole weens die gebruik van Afrikaans as onderrigmedium is 'n opsigtelike verset by hierdie skole teen hul sistematisering vir die verskaffing van 'goeie werkslui' vir die owerhede ... Ons besluit gevolglik om die gebruik van Afrikaans as onderrigmedium heeltemal te verwerp, en om die studente wat die standpunt ingeneem het om hierdie dialek te verwerp, in alle opsigte te ondersteun [en] om ook die rasgeskeide onderwysstelsel te veroordeel.
  • Ongelukkig het Afrikaans sekere historiese konnotasies verwerf wat gelei het tot die verwerping daarvan deur die swartman, en dit is naamlik politieke konnotasies.
    • Steve Biko (1946–1977) aangehaal in Sêgoed met slaankrag: 3 000+ van die slimste, snaaksste en soms onnoselste Suid-Afrikaanse aanhalings, George Claassen, ISBN 0624063194
  • En Afrikaans, hierdie kind van die bodem van Afrika, het reeds 'n werktuig vir miljoene mense geword – ja, vir meer as net die Afrikaner ... God se plan daarteenoor, was die skepping van 'n ander beskawing met 'n nuwe taal uit Afrika ... Afrikaans en hierdie pragtige suidelike land is onbetwisbaar aan mekaar verbind.
  • Afrikaans is 'n taal wat uit die bodem van Suid-Afrika gegroei en ontwikkel het, gevoed deur die verskeidenheid van tale en kulture in ons land, gewortel in die soeke na eie identiteit en vryheid. Sy krag en hoop op die toekoms was nog nooit spesiale bevoorregting nie; maar as een van die tale van Suid-Afrika wat skouer aan skouer tesame met die ander tale met respek en gelyke regte die toekoms tegemoet moet gaan.

21ste eeu

wysig
  • Op die oomblik lyk dit asof plaaslike Engels geen spesifieke sosiale waarde het nie, en daar is dus geen duidelike rede vir sy sprekers om die kenmerke daarvan te wil behou nie. Dit geld nie vir nie-standaard Afrikaans nie, wat beskou word as warm, intiem en 'n teken van lidmaatskap van die gemeenskap.
    • Kay McCormick in "Language in South Africa", p. 224, Rajend Mesthrie (red.), 17 Oktober 2002.
  • ...argitek Jan van Wijk se merkwaardige 1975-gedenkteken vir een van die wêreld se lelikste tale is, indien niks meer nie, nuttig as 'n uitstekende piekniekplek op pad na die wynlande van Franschhoek en Stellenbosch.
    • Bronwyn Davies of redakteur Richard Cook, in Wallpaper, September 2005
  • ... ek is terloops Afrikaans. ... Ek dink nie juis te veel daaraan nie, net soos ek nie te veel daaraan dink dat ek 'n lewer het nie. Die huidige onrustigheid oor Afrikaans vind ek egter ontstellend. Dit doen die beeld van Afrikaners, en dus ook van Afrikaans, niks goeds nie. ... om op so 'n selfregverdigende wyse op jou bors te slaan (net tien jaar na die einde van apartheid) is moreel in swak smaak. [...] Ons word ... deur sekere partye opgeroep om te mobiliseer vir Afrikaans, om te veg vir die voortbestaan van Afrikaans en vir minderheidsregte. Die probleem is egter dat ek myself nie tans as deel van 'n minderheid sien nie. Toe ek in die 1970's en 1980's, as Afrikaner, apartheid weerstaan het – en nie in die 1990's toe dit modieus geword het nie –, toe het ek my wel deel van 'n minderheid gevoel.
    • Paul Cilliers in 'n brief aan die Die Burger (10 Oktober 2005), soos aangehaal in No Lesser Place: The Taaldebat at Stellenbosch, p. 133, Chris Brink (2006)
  • Op skool was Afrikaans 'n verpligte vak wat my met intense afkeur vervul het; dit was 'n harde taal, soos die mense wat dit gepraat het. [...] In my pa se winkel, ... het ek tot my verbasing besef ... dat ek die taal begin geniet het. [Die] warm openhartigheid en ... aardsheid by baie van hierdie mense ... is mildelik en idiomaties in hul omgangstaal verwoord. En hoewel ek nooit verder gevorder het as om 'n soort kombuistaal te praat nie, het ek my oor ons gesprekke verbly.
    • David Goldblatt in "Some Afrikaners Photographed, 1975 – Some Afrikaners Revisited, 2006", 2006.
  • Slawe en Khoikhoi-bediendes het die grootste aandeel gehad aan die ontwikkeling van die hergestruktureerde Nederlands. In die verloop van die agtiende eeu het burgers en hul diensknegte, in wisselwerking met mekaar, die herstrukturering verder gevoer. Nederlands is vereenvoudig en 'n aansienlike hoeveelheid Maleis-Portugees, soos deur die slawe gepraat, is toegevoeg. Teen die einde van die eeu het Kaaps-Hollands grootliks geword wat nou Afrikaans is. In die Wes-Kaap, veral in sy plattelandse dorpe en plase, het die hoofvariëteit van Afrikaans posgevat as die gedeelde kulturele skepping ...
  • Die eerste poging om 'n kenmerkende Afrikaner-geskiedskrywing te formuleer, is aangevoor deur [Afrikaner-] inwoners van die klein dorpie Paarl, [wat] die Genootskap van Regte Afrikaners gestig het. Hulle het effektief gereageer op die kulturele oorheersing van die Britse koloniale regime. ... Hulle het hul eie geskiedenis gebaseer op publikasies van Europese outeurs wat kritiek op die Britse imperialisme gelewer het en op private korrespondensie en onderhoude met mede-Afrikaners. Al was dit 'n eenvoudige, naïewe geskiedenis, was dit 'n baanbrekende prestasie. Dit was die eerste boek wat in Afrikaans – die gesproke taal van die volk – gepubliseer is, eerder as Nederlands, waaruit dit in die Suid-Afrikaanse milieu gegroei het deur die sintaksis te vereenvoudig, die vokaalklanke te verander, irrelevante woordeskat af te staan, en leenwoorde te neem uit die ander tale – Maleis, Portugees-kreools en Khoikhoi – wat in die agtiende eeu aan die Kaap gepraat is.
  • Die saad wat deur die Paarl-dinkskrum geplant is, het nie veel vrugte gedra solank Afrikaners tussen koloniale en republikeinse regimes verdeel was nie. ... Ten spyte van baie terugslae het Afrikanerleierskap geleidelik hul nasionalistiese doelwitte bereik ... Hulle het die wit groep ook onderverdeel in Afrikaanssprekendes teenoor die res. Afrikaans het die voorste ampstaal geword, terwyl Engels tweederangse behandeling ontvang het. Die leierskap het belowe dat daar geen vermenging van taal, geen vermenging van kulture, geen vermenging van godsdienste en geen vermenging van rasse sou wees nie.
  • Die kern van die Afrikanernasionalistiese stryd was die poging om 'n nuwe nasionale gemeenskap met sy taal te vestig wat gelyk in aansien was met Engels in die openbare sfeer. ... Dit beteken dat Afrikaans in die parlement, die staatsdiens, skole, kolleges en universiteite en in die sakewêreld en finansies gehoor moes word; dit moes die medium van koerante, romans en gedigte wees, wat uitdrukking moes gee aan wat eg Suid-Afrikaans was. Pleks daarvan dat Engelssprekendes Afrikaners in berigte, romans of geskiedenis uitgebeeld het as alles wat hulle nie was nie: onverfynd, halfgeletterd, rassisties, dogmaties en onprogressief, moes Afrikaners hulself definieer en aanbied as die ware Suid-Afrikaners.
  • 'n Goeie plaaslike voorbeeld van [die proses om 'n taal te bevorder] is Afrikaans: 150 jaar gelede is Afrikaans oor die algemeen gesien as 'n blote omgangstaal (in die negatiewe sin), een wat slegs vir die laagste sosiale funksies gebruik is, aan 'n skryfstelsel ontbreek het, en oor geen literatuur beskik het nie. Geleidelik word Afrikaans egter as 'n instrument in die stryd teen die imperialisme van die Britse koloniale regering, en teen die Nederlands-georiënteerde elite se voorkeur vir Nederlands (en Engels) in hoë funksie-kontekste aangewend[.] 'n Groep onderwysers en predikante het toe 'n beweging aangevoor wat op die ontwikkeling (inhoudelike organisering) en bevordering (status- en prestige-beplanning) van Afrikaans gefokus was. Geleidelik het 'n gevoel van trots en lojaliteit teenoor Afrikaans ontwikkel, en binne ongeveer 60 jaar is Afrikaans erken as 'n taal van die publieke domein[,] 'n volwaardige standaardtaal.
  • Min tale het soveel omstredenheid gewek wat historiese ontwikkeling, benewens plek in die moderne samelewing betref.
  • Afrikaans sal oorleef en sal verder ontwikkel in 'n verskeidenheid dialekte. Dit is wat vir my belangrik is, daardie tipe vryheid. Die Afrikaners beteken nie vir my veel nie.
  • Dit is hoekom Afrikaans-eksklusiewe of selfs Afrikaans-dominante wit skole en universiteite 'n ernstige bedreiging inhou vir rasseverhoudinge in Suid-Afrika. Jy kan eenvoudig nie jongmense voorberei om die littekens van ons geweldadige verlede te hanteer sonder om optimale geleenthede te skep in die opvoedkundige omgewing vir gemengde leer- en leefwyses nie.
  • Teen die negentigerjare was Afrikaans nie meer die instrument van 'n chauvinistiese Afrikanernasionalisme nie. Afrikanerhistorici het begin om die veelsydige aard van ons geskiedenis te beklemtoon, Afrikaans is nie meer as onderrigmedium aan swart skole opgelê nie en die taal is drasties op staatsradio en televisie afgeskaal. Maar Afrikaans, benewens net drie ander (Hebreeus, Indonesies en Hindi), kon daarop roem dat hulle die enigste tale was wat in die verloop van die twintigste eeu die oorgang kon maak van 'n lae-status omgangstaal tot 'n voertaal in alle vlakke van die openbare lewe, insluitend literatuur, wetenskap en tegnologie.
  • Die afgelope 15 jaar word gekenmerk deur 'n toenemende migrasie van Afrikaanssprekendes na die digitale ruimte – 'n ruimte wat opwindende nuwe geleenthede vir Afrikaans bied.
  • Die wêreld [van 2017] lyk heeltemal anders as dié van 1937. Toe was kommunikasie beperk, en die bekendstelling van radio – in Afrikaans – het die wêreld verander.
  • Die Kandidaat, Katrina en Jannie totsiens verteenwoordig die goue era van die Afrikaanse rolprent, aangesien hulle produkte van gehalte en begrip gelewer het wat waarskynlik nie sedertdien geëwenaar is nie. ... hierdie dinamiese films het gepoog om die kykers se oë oop te maak vir die onmeedoënd-skadelike en kwetsende gevolge van geïnstitusionaliseerde apartheid vir die ander segmente van die samelewing, veral vir die sogenaamde 'kleurling'-gemeenskap. [Hul] uitsluiting [van] Afrikaner-identiteit, ten spyte daarvan dat hulle grootliks deel in dieselde kultuur en dieselfde taal as "Afrikaners" praat, vorm 'n sentrale tema ...
    • Elmarie van Huyssteen in Unmasking Violations Against Human Dignity in Selected Afrikaans Films in South Africa 1960-1976: A Practical Theological Investigation, 'n M.Phil.-verhandeling by die Universiteit van Stellenbosch, Desember 2017.
  • 'n Taal wat nie 'n kommersiële waarde het nie, sterf.
    • Willie Hofmeyr van Nasionale Pers, aangehaal in Sêgoed met slaankrag: 3 000+ van die slimste, snaaksste en soms onnoselste Suid-Afrikaanse aanhalings, George Claassen, ISBN 0624063194
  • Die jeugkultuur gryp die jong taal aan sy voorhuid en gee dit sy eerste demokratiese klimaks!
    • Pieter-Dirk Uys aangehaal in Sêgoed met slaankrag: 3 000+ van die slimste, snaaksste en soms onnoselste Suid-Afrikaanse aanhalings, George Claassen, ISBN 0624063194
  • Dit is ongelooflik en/of jammer dat ons tot vandag toe in hierdie grondwetlike demokrasie 'n samelewing het wat niks verkeerds sien met 'n taal wat tydens apartheid as 'n instrument van segregasie en diskriminasie gebruik is nie, iets wat 90 persent van Suid-Afrikaners bekla; 'n taal waarvan die nalatenskap hartseer en trane is vir die meerderheid van wie dit nie hul moedertaal was nie.
    • Voorlegging deur Criselda Makhubela, distriksdirekteur in Sedibeng-Oos, aan regter Bill Prinsloo van die Noord-Gautengse hooggeregshof in Overvaal Hoërskool vs. Edward Mosuwe, hoof van die Gautengse onderwysdepartement, vroeg Januarie 2018.
  • Teen die tyd dat die betogers buite Hoërskool Overvaal 'n petrolbom na die polisie gegooi het, was dit duidelik dat iets so eenvoudig soos 'n skool se taalbeleid, 41 jaar na die Soweto-opstand teen Afrikaans in swart skole steeds dodelike hartstogte kan aanwakker. Ek kon nie help om te dink nie: wat is dit aan Afrikaans wat die slegste in ons na vore bring?
  • Die moedige stryd van die Afrikaanse koerant Vrye Weekblad teen die apartheidstaat, die opdieping van apartheidsgeheime tydens die noodtoestande, in Afrikaans, verdien 'n meer sentrale plek in ons Struggle-geskiedenis. Die venynige reaksies op joernaliste Max du Preez, Jacques Pauw en Vrye Weekblad-joernaliste deur die apartheidstaat, waar die howe gebruik is om dit te sluit, is deel van die trotse versetgeskiedenis van Afrikaans.
  • Daar was 'n misverstand tussen ons en die minderheidsgroepe in die land, om eerlik te wees, veral mense wat Afrikaans praat, omdat die vorige regime baie hulpbronne en energie in hulle belê het. Ons bruin gemeenskappe voel gemarginaliseerd, ongeliefd, en voel dat hulle op die periferie staan.
  • Almal weet dat die DA, ondanks hul waarborg in die Grondwet, nie vir Afrikaanse taal- en kultuurregte in die bresse getree het nie.
  • Vir Afrikaans as onderrigtaal is dit ’n groot terugslag. Hoe die taal hierna op tersiêre vlak gaan herstel, is byna onmoontlik indien daar nie vanuit Afrikaanse geledere aggressiewe pogings aangewend gaan word om Afrikaans as onderrigtaal lewend te hou nie. Om pro-Afrikaans te wees beteken nie om anti-Engels te wees nie. Daarvoor het ons begrip. Dit gaan hier om die amptelike erkenning van ’n taal en alles wat daarrondom gebeur. Dit gaan hier oor die aantasting van ’n basiese mensereg, naamlik die handhawing van ’n taal.
  • Inklusiwiteit beteken dat al die sprekers van al die variëteite op 'n gelyke basis betrek word. Géén variëteit, die standaardvariëteit ingesluit, word belangriker as die ander geag nie. Afrikaans is die som van die taal se variëteite. Ons moet mekaar kan groet met 'n mirrag, hoesit, saloet en aweh. ... Wye alliansies – in die gees van die veeltaligheidsvoorstander dr. Neville Alexander – is nodig om die hegemonie van Engels teen te staan en ruimte vir die inheemse tale, Afrikaans ingesluit, te skep.